PG du Plessis is nog
van die ou skool. Met hom praat jy nie telefonies nie en vir hom stuur jy nie
vrae per e-pos nie.
Die sein daar op sy
plaas Sémoèr op Rysmierbult is hoeka maar so aan en af en deesdae antwoord hy
net so eenkeer elke ander week ’n e-pos.
Want, sê hy, dit is
vir hom moeite om sy sit op die stoel voor die rekenaar te kry.
Die storie loop wyd
dat hy al glo ’n joernalis van Bloemfontein in trane gehad het oor sy nie haar
feite agtermekaar gehad en haar huiswerk gedoen het nie.
Hy was immers op sy
dag self eindredakteur van Die Transvaler en later, in 1979, redakteur
van die koerant Hoofstad.
Maar vandag is hy
hups, skoon laf en hy spot fyn daar waar hy in die sonnetjie op die agterstoep
sit van die ou plaashuis wat al oor die honderd jaar oud is.
Hy trek diep aan sy
Peter Stuyvesant.
Hy noem die fotograaf
Theana “liefie” en eindig sy sinne aan my met “my lief”.
“Ja, ons kan maar oor
my sondes praat, dis baie entertaining,” sê hy so half droog. “En dit maak tog
goeie leesstof.”
Dan kom sy vrou,
Marie, aangestap en vra wat ons gaan drink. (Hulle was verlede jaar 55 jaar
getroud.)
“Ek sal weer met jou
trou, Marie,” skerts hy.
“Ek het nog nooit
gekyk hoe lyk ek op die internet nie. Maar nou die dag toe kry ons weer skielik
sein hier op die plaas en ek en my seun tik ‘PG du Plessis’ in. En daar kry ons
207 000 hits.
“Eerste ding wat ek
sien, is my lewensbeskrywing op Wikipedia en net daar vererg ek my so. Die
bleddie ding is so verkeerd dat jy kan skree daarvan.
“Ek is Pieter Georg.
Sonder die ‘e’. Dis ’n groot trots in my lewe om nie daai bliksemse ‘e’ in my
naam te hê nie.
“Dis om te wys hoe
stoer my voorgeslag was.”
Op 14 Julie word PG 80.
En daar gaan groot partytjie gehou word. Daarvoor het sy goeie vriendin en
amperse kind Alexa Strachan gesorg toe sy sommer ’n hele konsert vir hom
aanmekaargesit het.
“Tagtig is minder as
’n maand weg. Maar op my ouderdom weet jy nie eens of jy dit gaan haal nie. Kan
ek jou vertel van verganklikheid?
“Een van die beste
dinge wat tussen ons gegooi is, is ons verganklikheid. Daar het twee dinge
gebeur in die geskapenheid van die mensdom en die diereryk.
“Die een was toe die
geslagte ge-split het – jy het twee nodig om ’n nuwe baby te maak. Die gene
moet meng. Verstaan jy?
“En ek sê nog altyd,
as jy eers vrede gemaak het met die noodsaak van verganklikheid, kan jy lewe.
“Jy moet verbygaan vir
diversiteit om te groei. En wat jy nalaat, is basies jou gene. In jou kinders
leef jou gene voort.
“As jy nou jou eerste
agterkleinkind gaan ontmoet het in die Kaap, dan besef jy dis nog jou gene wat
aanloop,” sê hy.
Gelukkig weet ons dat
PG soveel meer as dit sal agterlaat.
Hy los ’n ryke skat
van stories vir ons en ons kinders en óns agterkleinkinders. Stories soos Siener
in die suburbs, Koöperasiestories, Nag van Legio. Stories
waarvoor hy lyste vol pryse verower het.
“ ’n Mens moet die
skoonheid van die verganklikheid aanvaar.
“Is jy by my, lief?”
vra hy skielik.
Ja, Oom PG, ek is by.
(Vroeër het hy gesê ek mag hom óf Oom óf Doktor noem. Maar hy is niemand se
Meneer nie.)
“Van Wyk Louw het ’n
wonderlike reël geskryf. Dit kom daarop neer dat God sy plesier wou gehad het
met die aanteel van siele en daarom het hy die lendene en die heupe geskape.”
NP Van Wyk Louw was
destyds, in 1966, die mentor onder wie hy ook sy doktorsgraad met sy proefskrif
“Die verwysing van die letterkunde” behaal het.
“Maar so, praat van
verganklikheid, jy moet vrede daarmee maak. En as jy 80 jaar gegun is, dan moet
jy dankbaar wees daarvoor. Die dood lê jou voor, jy weet net nie in watter vorm
die ou bliksem op jou wag nie.”
Hy praat van ’n
gediggie wat hy “gemaak” het wat hy vir my sal wys. Wat getoonset sou word deur
Christa Steyn. Maar voor dit kon gebeur het, is sy dood aan borskanker.
“Nie nou al nie, nie
nou al nie, daar is te veel wat sal agter bly.”
Sy eie prostaat lol
ook deesdae, maar daaroor gaan hy nie praat nie. Dis sy eie private besigheid.
“Tagtig is deel van my
afskeid.