Terésa Coetzee
@teresacoetzee
CrossFit is letterlik vir oud én jonk – en CrossFit Kids is die nuutste neiging.
“CrossFit Kids is nog redelik nuut in ons land, maar ons bied dit by CrossFit PBM Squared in Centurion aan,” sê Wilna Appel, ’n CrossFit-deelnemer aan die internasionale spele, asook ’n afrigter.
“Dis wêreldwyd net so gewild soos CrossFit, en dit maak ’n massiewe verskil in baie kinders se lewe.
“Die kinderklasse is gemik op jong kinders tussen 4 en 12. In baie van die oefeninge speel kinders eintlik net lekker.
“Tog het elke speletjie ’n baie spesifieke doel en is gerig om kinders van kleins af te leer hoe om reg te beweeg en die regte liggaamshouding aan te neem in sekere oefeninge soos optrekke en spronge,” sê Wilna.
Kinders se spiertjies word geaktiveer en sterk gemaak – en boonop kry hulle ’n baie positiewe verbinding met oefening.
“Baie van die oefeninge wat ons doen, leer kinders hoe om korrek te gaan sit, goed op te tel, te klim en te beweeg sodat hulle in ’n goeie posisie bly terwyl hulle sterker word. Sterker spiere en sterker bene beteken dat kinders minder beserings opdoen terwyl hulle hul fiksheid verbeter.
“Let wel, CrossFit Kids het absoluut niks met liggaamsbou te doen nie – al verbeter ons krag en fiksheid,” sê Wilna.
CrossFit Kids kos R500 per maand vir drie oefensessies per week saam met ’n gekwalifiseerde afrigter. Besoek www.crossfitpbmsquared.com of skakel 079 511 4370
No comments:
Post a Comment