Elaine Swanepoel
Ek is lief vir die buitelig, maar beskou myself nie as ’n stap-ghoeroe
nie. My enigste ondervinding van stap was die paar keer wat ek die koppie in
die Faerie Glen-natuurreservaat in Pretoria uitgeklim het – en dit was sonder
’n swaar sak met al my kos en klere in.
So toe ’n vriend voorstel ons gaan stap die Fanie Botha-roete, was ek
huiwerig. Ek is egter oortuig deur beloftes van natuurlike waterpoele, inheemse
woude en wonderskone natuurtonele.
Die Fanie Botha-staproete word beskou as een van die beste – en groenste
– staproetes in die land en is geleë tussen Sabie en Graskop in Mpumalanga. Die
roete loop deur denneplantasies, grasveld en inheemse woude. Jy kan kies uit
vyf voetslaanpaaie van tussen 17 km en 72 km, wat jou twee tot vyf dae neem.
Stappers oornag in houthuisies langs die pad (R89 per aand). Ons het besluit op
’n 44 km-roete wat ons in vier dae voltooi het.
Dag 1
Ons het vooraf soveel moontlik opgelees oor die gewig van ons rugsakke.
Die meeste bronne beweer dit moenie swaarder as ’n derde van jou liggaamsgewig
wees nie. Maar hoe ligter, hoe beter. Ons sakke se gewig het gewissel van 10 kg
tot 20 kg. Net die nodigste kon saamgaan, waaronder ’n klein blikketel en ’n
draagbare gasstofie.
Toe alles van onderklere tot toiletpapier geweeg is, het ons die
Sondagoggend vroeg vertrek en die eerste 8 km vol moed aangedurf. Hoewel die
eerste paar kilometer redelik steil is, is dié roete hoofsaaklik padlangs en
nie ongewoon moeilik nie.
Ek was verbaas oor hoe goed ek gevoel het toe die eerste hut om ’n draai
in die pad verskyn.
Stappers het die opsie om ’n koelboks vooraf te pak, wat dan by een van
die onderskeie huise langs die pad afgelewer word, maar ons wou die ervaring so
outentiek moontlik hou en het ons kos self gedra. Met vandag se moderne
kamptoebehore kan ’n mens betreklik luuks lewe sonder om te veel saam te
karwei.
Ons het ’n paar happies braaivleis vir die eerste aand ingepak.
Kospakkies vir die res van die stap het grootliks bestaan uit Smash, ontwaterde
groente, pakkies kitshawermout en kitskoffie.
Wenk: Daar is wel hout en ’n rooster by die eerste hut, maar geen
vuurmaak-goed nie. So skerp maar jou vuurmaakvaardighede by die huis op. Daar
is ook nie warm water of elektrisiteit by die hut nie, maar wel oorgenoeg
toiletpapier.
Ná aandete en ’n paar glasies wyn – vir dié kon ons darem plek maak in
ons oorlaaide rugsakke – het ons ingekruip. Salig onbewus van wat die volgende
dag op ons sou wag . . .
Dag 2
Die volgende dag het aangebreek in al sy glorie en ons vyf dapper
stappers was slaggereed vir die 14 km na die Stables-hut. Die roete loop deur
’n digte woud met fabelagtige plantegroei, mosbegroeide klippe en houtbruggies
oor helder waterstrome.
Paddastoelhuisies soos Dawie die kabouter s’n het my laat terugverlang
na my kinderdae, en ek het byna begin glo ek sal ’n bosfeetjie onder ’n varing
sien induik.
Skaars 2 km verder kom jy by ’n natuurlike waterpoel. Ons het sommer
elkeen agter ’n klip in ons swemklere verklee en toe die yskoue water
aangedurf. Dit doen wondere vir stywe spiere.
Toe begin die groot klim. Dié roete is nie grappies nie en jy klim met
tye amper vertikaal oor gladde klippe en boomstompe.
Wenk: ’n Kêrel wat Crossfit doen en jou teen die steiltes kan ophys, is
’n bonus. As jy nie so iets het nie, sal ’n stapstok net so goed werk. Jy kan
een vir R170 by Mr Price Sport koop.
Ons het al hoe hoër teen die berg op geklim en nes jy dink jy’s bo,
kronkel die paadjie nog ’n paar meter op. Een geluk is dat jy meestal in die
skadu van digte bosse stap.
Net voor jy van pure uitputting begin hallusineer, kom jy uit by ’n
oopte in die woud met ’n waterval van ten minste 80 m hoog. “Nou’s dit al die
pad afdraand,” het ons vir mekaar gesê en aan ons tuna en droë beskuitjies
gesmul.
Min het ons geweet daar wag nog ’n goeie 4 km se stywe opdraande. Ons
het Fanie Botha ’n hele paar name toegesnou voor ons eindelik die bopunt van
die berg bereik het, maar wanneer jy bo-op die berg staan en die vallei soos
groen golwe voor jou uitgestrek lê, weet jy dit was die moeite werd.
Dit was al 16:00 toe die eerste bord op die roete aandui daar lê nog ’n
volle 6,3 km oor tot by die Stables-hut. Die laaste ent is darem redelik gelyk
en ons het teen 19:00 moeg by die hut ingeval.
Dié hut het warm water, maar geen krag nie en bitter min
selfoonontvangs.
Wenk: Tensy jy jou foon vir groot gedeeltes van die dag afskakel, word
hy vinnig pap, so sorg maar dat jy ’n weggooikamera saamneem vir al die foto’s
wat jy beslis sal wil neem.
Ná ’n warm stort en ’n koningsmaal van Smash, kaas, salami en boontjies
is ons reguit bed toe. Nie eens my kamermaats se gesnork kon my dié aand uit
die slaap hou nie.
Dag 3
’n Allemintige 16 km het op ons gewag en ons het vroeg weggespring.
Die eerste paar kilometer is redelik steil, maar daarna loop jy al met
die bokant van die berg langs. Van hier kan jy Graskop in die verte sien en jou
verwonder aan hoe ver jy al gestap het. Ek het naderhand gevoel soos die Von
Trapp-gesin in The Sound of Music.
Wenk: Die voetpaadjie is baie nou en die afgrond onrusbarend naby. Loop
dus versigtig en staan liefs stil om die uitsig te bewonder. Ek het self ’n
paar keer amper by die berg afgerol en een keer halflyf in ’n gat beland toe ek
my misgis het met die breedte van die voetpaadjie.
Ons het lekker lank by die laaste waterpoel gerus, met die gedagte dat
die pres. Burger-hut net om die draai is. Maar Fanie Botha het ons weer eens
geflous en die laaste paar kilometer was aansienlik moeiliker en het dus langer
gevat om te stap.
Toe die laaste hut se spitsdak voor ons om die draai verskyn, het ek
amper gehuil van verligting. Die pres. Burger-hut se uitsig is verreweg die
mooiste en ná ete het ons ons matrasse buitentoe gesleep en eers ’n ruk gelê en
sterre kyk voor ons gaan slaap het.
Dag 4
Dié oggend het daar ’n digte mislaag oor die berg gehang. Die laaste
6 km is al die pad afdraende, maar ons lywe was moeg en met elke tree wat ek
gegee het, het dit gevoel of iemand my kuitspiere knyp.
Die feit dat ek my gordel die oggend stywer moes vastrek om te verseker
my broek bly bo, was ’n effense troosprys.
Die Fanie Botha-span het ons stiptelik om 10:00 by die eindpunt kom
oplaai en weer terug na ons motor by die Ceylon-hut gevat. Ek kon amper nie glo
ek het sopas 44 km gestap nie.
Ja, daar was tye dat ek myself verwens het dat ek
hiertoe ingestem het, maar uiteindelik was ek nie een oomblik spyt nie. Die
gevoel van vervulling wat ek ervaar het toe ek die roete voltooi het, was amper
groter as toe ek my laaste matriekvraestel geskryf het.
No comments:
Post a Comment