Friday, 26 December 2014
Thursday, 4 December 2014
Trampolienspring
JC Welthagen (16)
Toe JC Welthagen (16) vier jaar gelede saam met sy neef op matrasse in
hul kamer gespring het, sou hy nooit kon dink dat hy Suid-Afrika ’n paar jaar
later by die Zone6-trampolien byeenkoms in Namibië sou verteenwoordig nie.
Dié leerling van die Hoërskool Wonderboom het in 2010 op dié sport
verlief geraak en het sedertdien elke jaar Suid-Afrikaanse kleure gekry.
“Ek het met gimnastiek begin toe ek 13 was. Ek het dié sport baie
geniet, maar trampolienspring het my hart gesteel.”
Hy meen baie mense dink trampolienspring is ’n sport waar jy net op en
af spring.
“Min weet hulle hoeveel tegniek en inspanning vir dié sport nodig is. Ek
glo dit bou ook my karakter, want jy is heeltyd in kompetisie met jouself. Ek
wil altyd beter doen en hoër hoogtes bereik,” sê JC.
“Dit is die grootste kompetisie waaraan ek nog ooit deelgeneem het. Ek
is ’n klein bietjie op my senuwees, maar ek weet ek het hard gewerk en gaan my
heel beste lewer.”
Hy oefen twee keer per week vir twee ure by Ilana Pieterse van die Ten
Trampolien-klub in die Pretoriase Moot.
Volgens haar word al hoe meer mense bewus van dié sport.
“Die wêreldkampioenskapgetalle neem jaarliks toe. Trampolienspring is
verskriklik tegnies en verg baie deursettingsvermoë. Ek is bly dat meer mense
daarvan bewus word,” sê Pieterse.
Lande wat aan die Zone6-byeenkoms deelneem sluit in Zimbabwe, Namibië en
Angola.
Wednesday, 19 November 2014
War Horse
Charlea Sieberhagen
@Charlea_S
Met versigtige bewegings, goeie samewerking en vreemde geluide help Richard Vorster om lewe te gee aan die perdepoppe van die verhoogstuk War Horse.
Vorster, oorspronklik van Graaff Reinet in die Oos-Kaap, is ál Suid-Afrikaner in die produksie.
Hy woon deesdae in Londen en is een van die poppemeesters wat die koppe van die twee perde, Joey en Topthorn, hanteer.
Vorster het spesiaal in Suid-Afrika ’n kursus by die Handspring Puppet Company gevolg wat dié perdepoppe ontwerp en gemaak het nadat hy War Horse in Engeland gesien het.
“Ek het huis toe gekom en aan ’n weeklange werksessie in Kaapstad deelgeneem, want as jy nie ondervinding in poppespel het nie, oorweeg hulle jou nie eens nie.”
Hy het aanvanklik aansoek gedoen om deel te wees van die West End-produksie in Londen, maar hy het nie die rol gekry nie. Vorster het egter nie moed opgegee nie en ’n oudisie gedoen vir die Brittanje-toer. Dit is saam met dié geselskap dat Vorster ook op die verhoog by Montecasino beland het.
Hy meen dit is harde werk om die rol van ’n perd se kop te vertolk. “Drie poppemeesters maak elke perd lewend. Die drie van ons moet ons as ’n span saamwerk. Ons moes leer hoe om ’n eenheid te vorm, saam asem te haal en perde-geluide te maak.”
Vorster moet seker maak die perd kyk waar hy moet kyk en beheer die ore, wat een van die emosionele aanwysers is.
Volgens Vorster het hulle baie tyd bestee om perde en hul gewoontes te bestudeer.
Die fisieke uitdaging is ook groot. “Joey weeg byna 70 kg. Dus toer daar ’n fisioterapeut saam met ons en ons warm voor die tyd goed op. Ons bring ook tyd in die gimnasium deur en doen joga.”
- War Horse is tot 30 November by Montecasino te sien waarna dit Kaap toe verskuif.
Feite oor ‘War Horse’
- Die perdepoppe in War Horse is deur Adrian Kohler en Basil Jones van die Handspring Puppet Company in Kaapstad geskep.
- Dit neem agt maande om ’n volledige stel poppe vir die produksie te maak. 14 mans en vroue maak die poppe met die hand.
- Die poppe word gemaak van rottang, leer en poliëtileen, ’n sterk soort plastiek. Die perd se bolyf is met aluminium versterk sodat ’n mens op die perd kan sit.
- Die poppemeesters oefen vir agt weke voordat hulle met optredes kan begin.
- Daar is 23 verskillende poppe in War Horse. Dit sluit die hoofkarakters Joey en Topthorn in, asook nog perde, ’n gans, twee swaeltjies en twee kraaie.
- War Horse is al in Brittanje, Amerika, Duitsland, Nederland, en Australië opgevoer.
- Koningin Elizabeth II en verskeie lede van die Britse koninklike gesin het die produksie gesien.
Thursday, 13 November 2014
CrossFit Kids
Terésa Coetzee
@teresacoetzee
CrossFit is letterlik vir oud én jonk – en CrossFit Kids is die nuutste neiging.
“CrossFit Kids is nog redelik nuut in ons land, maar ons bied dit by CrossFit PBM Squared in Centurion aan,” sê Wilna Appel, ’n CrossFit-deelnemer aan die internasionale spele, asook ’n afrigter.
“Dis wêreldwyd net so gewild soos CrossFit, en dit maak ’n massiewe verskil in baie kinders se lewe.
“Die kinderklasse is gemik op jong kinders tussen 4 en 12. In baie van die oefeninge speel kinders eintlik net lekker.
“Tog het elke speletjie ’n baie spesifieke doel en is gerig om kinders van kleins af te leer hoe om reg te beweeg en die regte liggaamshouding aan te neem in sekere oefeninge soos optrekke en spronge,” sê Wilna.
Kinders se spiertjies word geaktiveer en sterk gemaak – en boonop kry hulle ’n baie positiewe verbinding met oefening.
“Baie van die oefeninge wat ons doen, leer kinders hoe om korrek te gaan sit, goed op te tel, te klim en te beweeg sodat hulle in ’n goeie posisie bly terwyl hulle sterker word. Sterker spiere en sterker bene beteken dat kinders minder beserings opdoen terwyl hulle hul fiksheid verbeter.
“Let wel, CrossFit Kids het absoluut niks met liggaamsbou te doen nie – al verbeter ons krag en fiksheid,” sê Wilna.
CrossFit Kids kos R500 per maand vir drie oefensessies per week saam met ’n gekwalifiseerde afrigter. Besoek www.crossfitpbmsquared.com of skakel 079 511 4370
Wednesday, 15 October 2014
Kanchanaburi in Thailand
Die Kanchanaburi-oorlogbegraafplaas
Die bekende brug oor die Kwairivier is die beginpunt van die Spoorlyn van die
Dood.
Die grot waarop jy afkom wanneer jy oor die Tham Krasae-brug loop. In die koel grot is ’n goue Boeddha-beeld waarheen mense kom om wierook te brand en te bid
Die Tham Krasae-brug in die oerwoud
Prasat Mueang Singh
Langstert-bote op die Kwai-rivier
X2 River Kwai, Kanchanaburi Resort
Die Hellfire Pass-herdenkings-museum
Elephants’ World in Kanchanaburi
Die mense van Thailand is vriendelik.
Jy leer sommer vinnig om almal met ’n sawadee kah (hallo in Thais)
te groet – soos die Thais dit met ’n groot glimlag en hul twee hande saamgevou
doen. Geen wonder daar word na Thailand as die land-van-glimlagte verwys nie. En
ondanks die onlangse staatsgreep, verloop ons besoek vreedsaam en vlot. Sommige
inwoners meen dinge loop nou beter, want die treine is betyds en hulle voel
korrupsie word bekamp.
korrupsie word bekamp.
Ek het wel ’n paar soldate in kakie-uniforms gesien, maar dit was
ook net omdat ek daarna opgelet het. Daar was geen aandklokreël tydens my besoek
nie.
Ons ry met ’n bus sowat 130 km noordwes van Bangkok na
Kanchanaburi. Dit is die hoofstad van die gelyknamige provinsie in die weste van
die land en dit is verfrissend om weer ooptes om jou te hê ná Bangkok en sy
12 miljoen mense. ’n Reis per pad neem altyd langer as wat jy verwag en ons ry
so drie uur aan die net meer as 100 km.
Ons eerste stilhouplek is die Kanchanaburi-oorlogsbegraafplaas wat
onder inwoners as die “Don-Rak-oorlogsbegraafplaas” bekend staan. Dit lyk soos
’n kleurvolle blommetuin, maar as jy nader staan, besef jy eers hoeveel
gesneuweldes hier lê.
Daar is rye en rye grafstene van 6 982 slagoffers – krygsgevangenes
wat help bou het aan die Thailand-Birma-spoorlyn, oftewel die spoorlyn van die
dood. Dié 421 km lange spoorlyn is in die Tweede Wêreldoorlog in opdrag van die
Japanse weermag gebou.
Ongeveer die helfte van die grafte is van gevalle Britse soldate.
Die res was hoofsaaklik van Nederland en Australië.
My aandag word getrek deur ’n Thaise vrou wat met ’n houtwaentjie
tussen die grafte deur loop en die tuin versorg. Sy lyk oud, maar min gepla met
die 40 toeriste wat op haar werkplek toesak. Alles lyk reeds perfek, maar sy
bespied elke nou en dan ’n takkie of dooie blaar wat sy ophark.
Op ’n steen is gegraveer: “Their name liveth forever more”.
Oorkant die begraafplaas is die Thailand-Birma-treinmuseum. ’n
Model, wat die spoorlyn met liggies uitbeeld, help ’n mens besef hoe hard die
krygsgevangenes moes werk om daardie spoorlyn in net ’n jaar klaar te bou.
Die sterftesyfer was hoog, want die Japanners was genadeloos en die
krygsgevangenes het min gekry om te eet. 13 000 krysgevangenes en 100 000 Thais
is dood in die bouproses.
Van hier stap ons na een van die bekendste bakens in die land, die
brug oor die Kwairivier.
In teenstelling met die donker gevoel van die begraafplaas is hier
’n heelwat ligter atmosfeer – ek is amper hier verewig op ’n paar troufoto’s.
’n Pa maak musiek op sy kitaar terwyl sy drie dogtertjies swaai en dans. Hulle
trek selfs los met “Countly Load” (dis nou John Denver se “Country Road”).
Die brug vorm die begin van “die spoorlyn van die dood” en ons klim
hier op ’n trein om die Birma-roete tot in Kanchanaburi te volg. Die vensters
van die trein is oop en die wind bied lafenis terwyl ons deur die baie warm
platteland ry. Suikerrietlande, pynappelplantasies en rysvelde vlieg verby
ons.
Plaaslike inwoners betaal min vir ’n kaartjie, maar as toeris
betaal jy ’n bietjie meer om seker te maak jy kry wel plek.
Ons trein stop vir middagete by die Tham Krasae-brug, ’n stasie in
die oerwoud. Stap jy oor die brug, kom jy op ’n koel grot met ’n goue
Boeddha-beeld af waar mense wierook brand en bid.
Hierna besoek ons die Hellfire Pass-museum, wat deur die
Australiese regering gebou is en onderhou word. Dit vertel ook die storie van
die omstrede spoorlyn.
Daar is ’n besonder mooi staproete van so 4 km waar die bome ’n
blaredak vorm. Trek maar goeie stapskoene aan, want die paadjie raak soms glad
waar die mos groei. Ná so ’n kilometer se stap kom jy by die Hellfire Pass aan.
Dis onwerklik om te dink dat mensehande die spoorlyn hier deur die klip kon kap.
Dan begin dit saggies reën, asof die hemel ook respek kom betoon. Die soldate
het dié stuk van die spoorlyn die Hellfire Pass gedoop ter herinnering aan die
uitgeteerde krygsgevangenes wat selfs deur die nag met flitsligte hier moes
aanhou werk.
Hierna klim ons op langstert-bote op die Kwai-rivier. Die bote kan
nogal vinnig oor die water gly en as dit eers spoed vermeerder, hop-hop jy oor
die water. Die water is skoon en die bos, bome en berge weerkaats daarin.
Op die oewer sien ons ’n troppie waterbuffels wei. Die Thaise woord
“kwai” beteken waterbuffel. Ons bestemming is die drywende River Kwai-restaurant
– jy kan slegs oor die water daar kom.
Die son is besig om te sak toe ons daar aankom. Oral brand
olielampe en mense lê op hangmatte terwyl kinders in die rivier swem. Aandete is
’n Thaise feesmaal met bakke vis, hoender en garnale wat met rys voorgesit word.
Vir nagereg is daar ’n vrugtebord. Ek baai my voete in die koel water terwyl ek
my
laaste slukkie Chang-bier afsluk.
laaste slukkie Chang-bier afsluk.
Die volgende oggend begin vroeg met ’n besoek aan die Prasat
Mueang Singh, ’n historiese park. Die indrukwekkendste hier is die Mueang
Singh-stad (“stad van die leeus”) wat van 857 en 1157, voorspoedige tye van die
Khmer-koninkryk, uit klip gebou is. Die ruïnes herinner aan ’n Indiana
Jones-fliek.
. Theana het die land as ’n gas van die Toerisme-owerheid van
Thailand.
LAAT BEJAARDE REUS SE SLURP JOU KIELIE BY AFTREEOORD VIR
OLIFANTE
Elephants’ World in Kanchanaburi is soos ’n aftreeoord vir
olifante, Thailand se nasionale dier.
Dié niewinsgewende organisasie sal enige diereliefhebber se
hartsnare roer. Baie van die bejaarde reuse hier se verhale is hartseer. Malee
(45), wat op die strate van Bangkok gebedel het, is deur ’n vragmotor getref en
haar regterbeen is erg beseer. Die besering veroorsaak nou nog pyn wanneer sy
loop.
Kammoon en Songkran het albei ’n geskiedenis van verwaarlosing in
die toerismebedryf.
Maar hier is hoop vir sulke grootvoete. Die leuse en benadering
hier is dat ménse nou ’n slag vir olifante werk. Besoekers kan ’n halfdag-,
voldag- of oornagopsie kies om tyd saam met die olifante deur te bring. Wat die
organisasie anders maak, is dat hulle sommer ook besoekers in die werk
steek.
Julie en Augustus is “groen seisoen” in Thailand en dus die ideale
tyd vir bemesting, en dit is waarmee ons met ons besoek aan die werk gespring
het. Grawe en emmers vol kunsmis is uitgedeel sodat ons die piesangbome en
pampoene kon gaan bemes. Vele hande maak ligte werk en ons span van 40 het goed
gevorder.
Die plante moet help om die ou grotes se mae vol te hou. Hulle eet
onder meer piesangs, pynappels, rys, suikerriet en pampoen. Hulle kry ook
aanvullings, veral kalsium.
Die 65-jarige Kammoon eet tot 250 kg kos per dag. Die kos word op
die plaas verbou, maar die organisasie het nogtans daagliks tot 5 000 Thaise
baht (R1 700) nodig om die 11 olifante te voed.
Hoe bederf jy ’n olifant? Jy gaan swem saam met haar in die rivier
en was dan haar rug. Terwyl die mahoets (olifantversorgers) die olifante die
rivier in lei, beweeg ons ook stadig in. Dit is beter om langs die olifante te
staan, want hul oë is aan die kant van hul kop. Dit kielie as hulle jou met hul
slurpe aanraak, maar dis hoe hulle jou beruik en bevoel.
Dit word ’n speletjie toe hulle ons met hul slurpe natspuit en ons
hulle met emmers water natgooi.
Van naderby besef ’n mens hul vel is sonsensitief. Daar is sowaar
sproetjies op hul gesigte en ore, anders as by ons Afrika-olifante. Juis daarom
moet dié olifante hoofsaaklik in die skadu bly.
Op die olifant-weldoeners se wenslysie is vier beskuttings en ’n
olifantbestande heining sodat hulle vry kan rondloop sonder om die naburige
boere te ontstel.
Ons dag word afgesluit met ’n laaste takie: om vir die olifante kos
uit te deel. Hulle kry ryskoekies so groot soos ’n hokkiebal wat hulle met een
hap opeet.
Die personeel bestaan hoofsaaklik uit vrywilligers en hulle het
duidelik ’n sagte plekkie vir die reuse - en die olifante weet dit. Hulle is
rustig en ontspanne.
. ’n Dagbesoeker betaal 2 000 baht (sowat R690), wat middagete
insluit. Kry meer inligting by elephantsworld.org.
http://www.netwerk24.com/ontspan/2014-10-11-n-ander-blik-op-thailand
Subscribe to:
Posts (Atom)