Showing posts with label thailand. Show all posts
Showing posts with label thailand. Show all posts

Tuesday, 3 March 2015

Hua Hin, Thailand


Smul aan eksotiese lekkernye, verkyk jouself aan kleurryke vissersbote en prentjiemooi strande en stap tot by ’n tempel in ’n grot wanneer jy Hua Hin in Thailand besoek.





























Hua Hin Hills Vineyard










http://www.netwerk24.com/ontspan/2015-02-28-papajaslaai-op-die-thaise-seesand?vc=4ed39dc1418b0838cf522a153c71bfa6



Papajaslaai op die Thaise seesand

Hua Hin, met sy idilliese strande en smullekker seekos, is ’n gewilde naweekbestemming vir die jappies en rykes van 
Bangkok. 
As jy gelukkig is, loop jy dalk selfs Thailand se “eerste burger”, koning Bhoemibol Adoeljadej, raak.
Met ’n indrukwekkende 87 
somers agter die rug, is Adoeljadej die wêreld se langs heersende monarg. 
Hy heers al sedert 1946 oor Thailand en bly vanaf 2013 
permanent op Hua Hin in sy somerpaleis. 
Dié eenvoudige kusdorpie is skaars twee en ’n half uur se ry van Bangkok se dol leefstyl. 
Hier kan jy teen bekostigbare pryse ontspan. 
Hua Hin het as ’n vissersdorpie ontstaan en ondanks sy 
status as toeristebestemming het hy tog van sy aanvanklike rustigheid behou. 
Met ons aankoms in Hua Hin oorval die lus vir seekos ons.
Ons gaan eet by die Chom ¬Talay-strandrestaurant, ’n eetplekkie met seesand as vloer en ’n rietdak wat net genoeg skadu oor die tafels gooi. Ek skop my skoene uit om die sand tussen my tone te voel. 
Oomblikke later kreun hout-
tafels onder bakke garnale, kammossels en die varsste vis. 
My gunstelinggereg is ’n groen papajaslaai (som toem thai) wat bestaan uit gedroogde garnale, grondboontjies, rissies en ’n soort groen papaja wat ’n mens ongelukkig nie in Suid-Afrika kry nie. Dis heerlik 
verfrissend met ’n lekker byt.
Ons het twee aande in die pragtige Dusit Thani-hotel geslaap. Die hotel het 296 kamers waarvan elk ’n private balkon het wat uitkyk oor die see of oor die tropiese tuine. 
’n Vrugtebord met eksotiese vrugte wag in die kamer. 
Ek is bly om nog mangostans (’n soet-suur vruggie met wit vleis soos ’n lietsjie) te kry. 
Dié wat nie graag in die see swem nie, kan afkoel in een van die hotel se swembaddens of buitelug-borrelbaddens met ’n uitsig oor die see. 
Later maak ons vinnig ’n draai by die kleurvolle Hua Hin-treinstasie. 
Die ou stasie is in die 1920’s in eg Thaise styl gebou, maar word steeds pragtig in stand 
gehou. 
Die koning het destyds die 
koninklike wagkamer gebruik. 
Die trein was daardie tyd die enigste alternatiewe vervoermiddel vanaf Bangkok as jy nie die boot wou vat nie. Die 
somerpaleis in Hua Hin word al amper ’n eeu lank deur die 
koning vir wegbreke gebruik.
Daar wag natuurlik meer as net swembaddens en strande op besoekers aan Hua Hin. 
Net 60 km suid van Hua Hin is die Khao Sam Roi Jot Nasionale Park, wat in Thais beteken “300 bergpieke”. 
Dit verwys na die kalksteenbergpieke al langs die Golf van Thailand. 
Voor ons by die park aankom, ry ons deur die vissersdorpie Bang Po, waar vissermanne saans by maanlig inkvisse vang. Stop gerus hier en verkyk jou aan dié pragdorpie met sy kleurvolle vissersbote. 
Ons vat langstertbote vanaf Laem Sala-strand. Die alternatief is om te stap vanaf Bang Po-strand oor ’n koppie na Laem-strand. Dis so 15 minute se klim en met mooi uitsigte oor die see en die moontlikheid om ’n brillangoer (’n soort apie) te sien is dit beslis die moeite werd. 
Met ons besoek was dit egter bloedig warm en ek was maar te dankbaar om eerder op die bote te vaar. Die toegangsgeld vir die park is 200 baht (sowat R70) en ongeveer 150 baht 
(sowat R50) per persoon op die boot. Toegang tot die grotte is gratis. Die Phraja Nakhon-grotte in die park was vir my ’n hoogtepunt van my besoek. 
Die grotte is genoem na ’n 
vorige regeerder, Phraja Nakhon, wat dit meer as 200 jaar gelede ontdek het toe hy op soek was na skuiling tydens ’n storm. Die grot is uit kalksteen gevorm en twee sinkgate sorg vir nuttige dakvensters wat lig na binne laat stroom. 
Die Khoeha Kharuehat (’n klein tempel) is in 1890 gebou om ’n besoek van koning Rama V te herdenk. 
Die roete na die grotte is so 45 minute se stap en hoewel dit net 450 m ver is, laat die hitte en humiditeit dit veel verder voel. Pak liefs stapskoene in, die klippe kan skerp en glad raak en plakkies is nie ’n goeie idee nie. Jy sal ook dankbaar wees as jy insekweerder byderhand het. 
Natgesweet en uitasem kom ons by die tempel aan. Dit is verbasend groot en baie besonders. En tog lyk die tempel met sy eg Thaise karakter klein teenoor die ooptes, klip en 
lowergroen bosse. Dis koel in die stil oopdakgrot. Die lig stroom in deur die dakvensters en belig die tempel op ’n dramatiese, betowerende manier. 
Bring jou kamera, want dié natuurtoneel wil jy beslis met ander deel. 
Terug aan die voet van die berg is ’n restaurant waar jy heerlike kos teen ’n billike prys sal kry. Ligte Thaise etes soos geurige hoender, vis en slaai saam met rys is op die spyskaart. 
Die wit strande van Hat Laem Sala is pragtig en die son bak die sand so warm dat dit kaal voete brand. Ek hardloop oor die sand na die see sodat die seewater my voete kan afkoel. As ons meer tyd gehad het, sou ek sonder twyfel graag in die louwarm water wou swem. Die koel windjie tydens die rit op die langstertboot terug na die Bang Po-strand koel jou darem effens af ná die uitmergelende stapsessie. 
By die geskenkwinkeltjie op die strand kan jy enigiets van lawwe olifante wat uit peule 
gemaak is tot mooi juwele koop as ’n aandenking van jou besoek. Ek staan een oggend vroeg op om op die strand te gaan stap sodat ek die hotel se ontbyt¬buffet kan geniet sonder om skuldig te voel. 
Dis interessant om die vissers en hul bote vlak by die hotel se strand te sien. Die kontras van die hotel se weelde teenoor die vissermanne se helderkleurige, windverweerde bote is verfrissend.
. Breugem was ’n gas van Thailand se Toerisme Owerheid en Thai Airways. Flight Centre bied pakette na Thailand.


Heerlike wyn uit die moeilikste omstandighede


Die spogwingerde verskyn so skielik tussen die oerwoud langs die pad, dit voel soos oëverblindery. Net 45 km wes van die kusdorp Hua Hin staan die 560 ha se wingerde idillies 
tussen die Hua Hin-heuwels. 
Die Hua Hin Hills-wingerde is die tuiste van Monsoon Valley-wyn. Dit is die eerste wynplaas ter wêreld wat begin het om wyn op die 13de breedtegraad te verbou. Tradisioneel is die 
wyngordel tussen die 30ste en 50ste breedtegraad. 
Die eerste wingerde is hier aangeplant in 2004 en oestyd is van middel-Februarie tot middel-Maart. 
Die tropiese landskap is so 
anders as wat ek ken in die Kaap en dit smokkel amper met ’n mens se kop. Maar hier staan colombard, chenin blanc, 
sauvignon blanc, muscat, cabernet sauvignon, merlot, shiraz, sangiovese en tempranillo netjies in gelid. Ek sien uit na die wynproe, want die afgelope week het ons meestal Thaise bier, soos Chang en Singha, of Mekong-whiskey gedrink. 
Ek is beïndruk met die moeite wat Thailand met hul wynbedryf doen, maar voel terselfdertyd jammer vir hulle. Dis asof alles teen hulle tel: die hitte en humiditeit en die reën wat ses maande lank klokslag tussen 17:00 en 19:00 neerstort. 
Dit alles veroorsaak dat die wingerde so gou groei dat dit twee oeste ’n jaar lewer, in plaas van een. Om twee keer te oes is ongelukkig nie ’n opsie nie. Die risiko is net te groot dat jy die wingerde sal uitput. 
Verder is daar glo so baie 
kobras en luislange tussen die wingerde dat plukkers nie eens in die aand kan werk om die hitte te vermy nie, want hulle word dalk net slangkos. 
Ondanks al dié struikelblokke spog Monsoon Valley-wyne met vele eerbewyse op hul kerfstok. Hulle laat dit doodeenvoudig net maklik lyk. Ongeveer 60% van Monsoon Valley word uitgevoer na sowat 15 lande en natuurlik kan jy die wyn ook in Thailand koop. 
Halfpad deur die wyntoer gaan staan my hart amper toe ek die twee reuse-olifante op die horison tussen die wingerde sien aangestap kom. Dis die mooiste, vreemdste prentjie. Ek gryp na my kamera en probeer so tussen die res van my toergroep deur ’n paar foto’s neem. 
As jy avontuurlustig genoeg is, kan jy ’n toer van die wingerd op die rug van een van dié pragtige diere kry. Ons het die 
wingerd in ’n Jeep bekyk. 
Toe die son begin sak, skuif ons by ’n lang tafel in op die houtdek van die Sala Wine Bar, met ’n uitsig oor die wynplaas. 
Die kos by die restaurant is hemels. Dit is die eerste keer wat ek krap met ’n sagte dop eet en die krakerigheid laat my my lippe aflek.
Ons proe ook die chenin blanc, ’n wit shiraz en ’n colombard. Die wynetiket het ’n slangagtige figuur. Dit is ’n mitologiese 
figuur wat hier rond ’n naga heet. Daar word geglo die naga help die landelike gebiede in Thailand beskerm. 

Wednesday, 15 October 2014

Kanchanaburi in Thailand


Die Kanchanaburi-oorlogbegraafplaas 






Die bekende brug oor die Kwairivier is die beginpunt van die Spoorlyn van die Dood.





Die grot waarop jy afkom wanneer jy oor die Tham Krasae-brug loop. In die koel grot is ’n goue Boeddha-beeld waarheen mense kom om wierook te brand en te bid





Die Tham Krasae-brug in die oerwoud




Prasat Mueang Singh






Langstert-bote op die Kwai-rivier





X2 River Kwai, Kanchanaburi Resort



Die Hellfire Pass-herdenkings-museum






Elephants’ World in Kanchanaburi












Die mense van Thailand is vriendelik.
Jy leer sommer vinnig om almal met ’n sawadee kah (hallo in Thais) te groet – soos die Thais dit met ’n groot glimlag en hul twee hande saamgevou doen. Geen wonder daar word na Thailand as die land-van-glimlagte verwys nie. En ondanks die onlangse staatsgreep, verloop ons besoek vreedsaam en vlot. Sommige inwoners meen dinge loop nou beter, want die treine is betyds en hulle voel
korrupsie word bekamp.
Ek het wel ’n paar soldate in kakie-uniforms gesien, maar dit was ook net omdat ek daarna opgelet het. Daar was geen aandklokreël tydens my besoek nie.
Ons ry met ’n bus sowat 130 km noordwes van Bangkok na Kanchanaburi. Dit is die hoofstad van die gelyknamige provinsie in die weste van die land en dit is verfrissend om weer ooptes om jou te hê ná Bangkok en sy 12 miljoen mense. ’n Reis per pad neem altyd langer as wat jy verwag en ons ry so drie uur aan die net meer as 100 km.
Ons eerste stilhouplek is die Kanchanaburi-oorlogsbegraafplaas wat onder inwoners as die “Don-Rak-oorlogsbegraafplaas” bekend staan. Dit lyk soos ’n kleurvolle blommetuin, maar as jy nader staan, besef jy eers hoeveel gesneuweldes hier lê.
Daar is rye en rye grafstene van 6 982 slagoffers – krygsgevangenes wat help bou het aan die Thailand-Birma-spoorlyn, oftewel die spoorlyn van die dood. Dié 421 km lange spoorlyn is in die Tweede Wêreldoorlog in opdrag van die Japanse weermag gebou.
Ongeveer die helfte van die grafte is van gevalle Britse soldate. Die res was hoofsaaklik van Nederland en Australië.
My aandag word getrek deur ’n Thaise vrou wat met ’n houtwaentjie tussen die grafte deur loop en die tuin versorg. Sy lyk oud, maar min gepla met die 40 toeriste wat op haar werkplek toesak. Alles lyk reeds perfek, maar sy bespied elke nou en dan ’n takkie of dooie blaar wat sy ophark.
Op ’n steen is gegraveer: “Their name liveth forever more”.
Oorkant die begraafplaas is die Thailand-Birma-treinmuseum. ’n Model, wat die spoorlyn met liggies uitbeeld, help ’n mens besef hoe hard die krygsgevangenes moes werk om daardie spoorlyn in net ’n jaar klaar te bou.
Die sterftesyfer was hoog, want die Japanners was genadeloos en die krygsgevangenes het min gekry om te eet. 13 000 krysgevangenes en 100 000 Thais is dood in die bouproses.
Van hier stap ons na een van die bekendste bakens in die land, die brug oor die Kwairivier.
In teenstelling met die donker gevoel van die begraafplaas is hier ’n heelwat ligter atmos­feer – ek is amper hier verewig op ’n paar troufoto’s. ’n Pa maak musiek op sy kitaar terwyl sy drie dogtertjies swaai en dans. Hulle trek selfs los met “Countly Load” (dis nou John Denver se “Country Road”).
Die brug vorm die begin van “die spoorlyn van die dood” en ons klim hier op ’n trein om die Birma-roete tot in Kanchanaburi te volg. Die vensters van die trein is oop en die wind bied lafenis terwyl ons deur die baie warm platteland ry. Suikerrietlande, pynappelplantasies en rysvelde vlieg verby ons.
Plaaslike inwoners betaal min vir ’n kaartjie, maar as toeris betaal jy ’n bietjie meer om seker te maak jy kry wel plek.
Ons trein stop vir middagete by die Tham Krasae-brug, ’n stasie in die oerwoud. Stap jy oor die brug, kom jy op ’n koel grot met ’n goue Boeddha-beeld af waar mense wierook brand en bid.
Hierna besoek ons die Hellfire Pass-museum, wat deur die Australiese regering gebou is en onderhou word. Dit vertel ook die storie van die omstrede spoorlyn.
Daar is ’n besonder mooi staproete van so 4 km waar die bome ’n blaredak vorm. Trek maar goeie stapskoene aan, want die paadjie raak soms glad waar die mos groei. Ná so ’n kilometer se stap kom jy by die Hellfire Pass aan. Dis onwerklik om te dink dat mensehande die spoorlyn hier deur die klip kon kap. Dan begin dit saggies reën, asof die hemel ook respek kom betoon. Die soldate het dié stuk van die spoorlyn die Hellfire Pass gedoop ter herinnering aan die uitgeteerde krygsgevangenes wat selfs deur die nag met flitsligte hier moes aanhou werk.
Hierna klim ons op langstert-bote op die Kwai-rivier. Die bote kan nogal vinnig oor die water gly en as dit eers spoed vermeerder, hop-hop jy oor die water. Die water is skoon en die bos, bome en berge weerkaats daarin.
Op die oewer sien ons ’n troppie waterbuffels wei. Die Thaise woord “kwai” beteken waterbuffel. Ons bestemming is die drywende River Kwai-restaurant – jy kan slegs oor die water daar kom.
Die son is besig om te sak toe ons daar aankom. Oral brand olielampe en mense lê op hangmatte terwyl kinders in die rivier swem. Aandete is ’n Thaise feesmaal met bakke vis, hoender en garnale wat met rys voorgesit word. Vir nagereg is daar ’n vrugtebord. Ek baai my voete in die koel water terwyl ek my
laaste slukkie Chang-bier afsluk.
Die volgende oggend begin vroeg met ’n besoek aan die ­Prasat Mueang Singh, ’n historiese park. Die indrukwekkendste hier is die Mueang Singh-stad (“stad van die leeus”) wat van 857 en 1157, voorspoedige tye van die Khmer-koninkryk, uit klip gebou is. Die ruïnes herinner aan ’n Indiana Jones-fliek.
. Theana het die land as ’n gas van die Toerisme-owerheid van Thailand.


LAAT BEJAARDE REUS SE SLURP JOU KIELIE BY AFTREEOORD VIR OLIFANTE
Elephants’ World in Kanchanaburi is soos ’n aftreeoord vir olifante, Thailand se nasionale dier.
Dié niewinsgewende organisasie sal enige diereliefhebber se hartsnare roer. Baie van die bejaarde reuse hier se verhale is hartseer. Malee (45), wat op die strate van Bangkok gebedel het, is deur ’n vragmotor getref en haar regterbeen is erg beseer. Die besering veroorsaak nou nog pyn wanneer sy loop.
Kammoon en Songkran het albei ’n geskiedenis van verwaarlosing in die toerismebedryf.
Maar hier is hoop vir sulke grootvoete. Die leuse en benadering hier is dat ménse nou ’n slag vir olifante werk. Besoekers kan ’n halfdag-, voldag- of oornagopsie kies om tyd saam met die olifante deur te bring. Wat die organisasie anders maak, is dat hulle sommer ook besoekers in die werk steek.
Julie en Augustus is “groen seisoen” in Thailand en dus die ideale tyd vir bemesting, en dit is waarmee ons met ons besoek aan die werk gespring het. Grawe en emmers vol kunsmis is uitgedeel sodat ons die piesangbome en pampoene kon gaan bemes. Vele hande maak ligte werk en ons span van 40 het goed gevorder.
Die plante moet help om die ou grotes se mae vol te hou. Hulle eet onder meer piesangs, pynappels, rys, suikerriet en pampoen. Hulle kry ook aanvullings, veral kalsium.
Die 65-jarige Kammoon eet tot 250 kg kos per dag. Die kos word op die plaas verbou, maar die organisasie het nogtans daagliks tot 5 000 Thaise baht (R1 700) nodig om die 11 olifante te voed.
Hoe bederf jy ’n olifant? Jy gaan swem saam met haar in die rivier en was dan haar rug. Terwyl die mahoets (olifantversorgers) die olifante die rivier in lei, beweeg ons ook stadig in. Dit is beter om langs die olifante te staan, want hul oë is aan die kant van hul kop. Dit kielie as hulle jou met hul slurpe aanraak, maar dis hoe hulle jou beruik en bevoel.
Dit word ’n speletjie toe hulle ons met hul slurpe natspuit en ons hulle met emmers water natgooi.
Van naderby besef ’n mens hul vel is sonsensitief. Daar is sowaar sproetjies op hul gesigte en ore, anders as by ons Afrika-olifante. Juis daarom moet dié olifante hoofsaaklik in die skadu bly.
Op die olifant-weldoeners se wenslysie is vier beskuttings en ’n olifantbestande heining sodat hulle vry kan rondloop sonder om die naburige boere te ontstel.
Ons dag word afgesluit met ’n laaste takie: om vir die olifante kos uit te deel. Hulle kry ryskoekies so groot soos ’n hokkiebal wat hulle met een hap opeet.
Die personeel bestaan hoofsaaklik uit vrywilligers en hulle het duidelik ’n sagte plekkie vir die reuse - en die olifante weet dit. Hulle is rustig en ontspanne.
. ’n Dagbesoeker betaal 2 000 baht (sowat R690), wat middagete insluit. Kry meer inligting by elephantsworld.org.

http://www.netwerk24.com/ontspan/2014-10-11-n-ander-blik-op-thailand