Wednesday 15 October 2014

Kanchanaburi in Thailand


Die Kanchanaburi-oorlogbegraafplaas 






Die bekende brug oor die Kwairivier is die beginpunt van die Spoorlyn van die Dood.





Die grot waarop jy afkom wanneer jy oor die Tham Krasae-brug loop. In die koel grot is ’n goue Boeddha-beeld waarheen mense kom om wierook te brand en te bid





Die Tham Krasae-brug in die oerwoud




Prasat Mueang Singh






Langstert-bote op die Kwai-rivier





X2 River Kwai, Kanchanaburi Resort



Die Hellfire Pass-herdenkings-museum






Elephants’ World in Kanchanaburi












Die mense van Thailand is vriendelik.
Jy leer sommer vinnig om almal met ’n sawadee kah (hallo in Thais) te groet – soos die Thais dit met ’n groot glimlag en hul twee hande saamgevou doen. Geen wonder daar word na Thailand as die land-van-glimlagte verwys nie. En ondanks die onlangse staatsgreep, verloop ons besoek vreedsaam en vlot. Sommige inwoners meen dinge loop nou beter, want die treine is betyds en hulle voel
korrupsie word bekamp.
Ek het wel ’n paar soldate in kakie-uniforms gesien, maar dit was ook net omdat ek daarna opgelet het. Daar was geen aandklokreël tydens my besoek nie.
Ons ry met ’n bus sowat 130 km noordwes van Bangkok na Kanchanaburi. Dit is die hoofstad van die gelyknamige provinsie in die weste van die land en dit is verfrissend om weer ooptes om jou te hê ná Bangkok en sy 12 miljoen mense. ’n Reis per pad neem altyd langer as wat jy verwag en ons ry so drie uur aan die net meer as 100 km.
Ons eerste stilhouplek is die Kanchanaburi-oorlogsbegraafplaas wat onder inwoners as die “Don-Rak-oorlogsbegraafplaas” bekend staan. Dit lyk soos ’n kleurvolle blommetuin, maar as jy nader staan, besef jy eers hoeveel gesneuweldes hier lê.
Daar is rye en rye grafstene van 6 982 slagoffers – krygsgevangenes wat help bou het aan die Thailand-Birma-spoorlyn, oftewel die spoorlyn van die dood. Dié 421 km lange spoorlyn is in die Tweede Wêreldoorlog in opdrag van die Japanse weermag gebou.
Ongeveer die helfte van die grafte is van gevalle Britse soldate. Die res was hoofsaaklik van Nederland en Australië.
My aandag word getrek deur ’n Thaise vrou wat met ’n houtwaentjie tussen die grafte deur loop en die tuin versorg. Sy lyk oud, maar min gepla met die 40 toeriste wat op haar werkplek toesak. Alles lyk reeds perfek, maar sy bespied elke nou en dan ’n takkie of dooie blaar wat sy ophark.
Op ’n steen is gegraveer: “Their name liveth forever more”.
Oorkant die begraafplaas is die Thailand-Birma-treinmuseum. ’n Model, wat die spoorlyn met liggies uitbeeld, help ’n mens besef hoe hard die krygsgevangenes moes werk om daardie spoorlyn in net ’n jaar klaar te bou.
Die sterftesyfer was hoog, want die Japanners was genadeloos en die krygsgevangenes het min gekry om te eet. 13 000 krysgevangenes en 100 000 Thais is dood in die bouproses.
Van hier stap ons na een van die bekendste bakens in die land, die brug oor die Kwairivier.
In teenstelling met die donker gevoel van die begraafplaas is hier ’n heelwat ligter atmos­feer – ek is amper hier verewig op ’n paar troufoto’s. ’n Pa maak musiek op sy kitaar terwyl sy drie dogtertjies swaai en dans. Hulle trek selfs los met “Countly Load” (dis nou John Denver se “Country Road”).
Die brug vorm die begin van “die spoorlyn van die dood” en ons klim hier op ’n trein om die Birma-roete tot in Kanchanaburi te volg. Die vensters van die trein is oop en die wind bied lafenis terwyl ons deur die baie warm platteland ry. Suikerrietlande, pynappelplantasies en rysvelde vlieg verby ons.
Plaaslike inwoners betaal min vir ’n kaartjie, maar as toeris betaal jy ’n bietjie meer om seker te maak jy kry wel plek.
Ons trein stop vir middagete by die Tham Krasae-brug, ’n stasie in die oerwoud. Stap jy oor die brug, kom jy op ’n koel grot met ’n goue Boeddha-beeld af waar mense wierook brand en bid.
Hierna besoek ons die Hellfire Pass-museum, wat deur die Australiese regering gebou is en onderhou word. Dit vertel ook die storie van die omstrede spoorlyn.
Daar is ’n besonder mooi staproete van so 4 km waar die bome ’n blaredak vorm. Trek maar goeie stapskoene aan, want die paadjie raak soms glad waar die mos groei. Ná so ’n kilometer se stap kom jy by die Hellfire Pass aan. Dis onwerklik om te dink dat mensehande die spoorlyn hier deur die klip kon kap. Dan begin dit saggies reën, asof die hemel ook respek kom betoon. Die soldate het dié stuk van die spoorlyn die Hellfire Pass gedoop ter herinnering aan die uitgeteerde krygsgevangenes wat selfs deur die nag met flitsligte hier moes aanhou werk.
Hierna klim ons op langstert-bote op die Kwai-rivier. Die bote kan nogal vinnig oor die water gly en as dit eers spoed vermeerder, hop-hop jy oor die water. Die water is skoon en die bos, bome en berge weerkaats daarin.
Op die oewer sien ons ’n troppie waterbuffels wei. Die Thaise woord “kwai” beteken waterbuffel. Ons bestemming is die drywende River Kwai-restaurant – jy kan slegs oor die water daar kom.
Die son is besig om te sak toe ons daar aankom. Oral brand olielampe en mense lê op hangmatte terwyl kinders in die rivier swem. Aandete is ’n Thaise feesmaal met bakke vis, hoender en garnale wat met rys voorgesit word. Vir nagereg is daar ’n vrugtebord. Ek baai my voete in die koel water terwyl ek my
laaste slukkie Chang-bier afsluk.
Die volgende oggend begin vroeg met ’n besoek aan die ­Prasat Mueang Singh, ’n historiese park. Die indrukwekkendste hier is die Mueang Singh-stad (“stad van die leeus”) wat van 857 en 1157, voorspoedige tye van die Khmer-koninkryk, uit klip gebou is. Die ruïnes herinner aan ’n Indiana Jones-fliek.
. Theana het die land as ’n gas van die Toerisme-owerheid van Thailand.


LAAT BEJAARDE REUS SE SLURP JOU KIELIE BY AFTREEOORD VIR OLIFANTE
Elephants’ World in Kanchanaburi is soos ’n aftreeoord vir olifante, Thailand se nasionale dier.
Dié niewinsgewende organisasie sal enige diereliefhebber se hartsnare roer. Baie van die bejaarde reuse hier se verhale is hartseer. Malee (45), wat op die strate van Bangkok gebedel het, is deur ’n vragmotor getref en haar regterbeen is erg beseer. Die besering veroorsaak nou nog pyn wanneer sy loop.
Kammoon en Songkran het albei ’n geskiedenis van verwaarlosing in die toerismebedryf.
Maar hier is hoop vir sulke grootvoete. Die leuse en benadering hier is dat ménse nou ’n slag vir olifante werk. Besoekers kan ’n halfdag-, voldag- of oornagopsie kies om tyd saam met die olifante deur te bring. Wat die organisasie anders maak, is dat hulle sommer ook besoekers in die werk steek.
Julie en Augustus is “groen seisoen” in Thailand en dus die ideale tyd vir bemesting, en dit is waarmee ons met ons besoek aan die werk gespring het. Grawe en emmers vol kunsmis is uitgedeel sodat ons die piesangbome en pampoene kon gaan bemes. Vele hande maak ligte werk en ons span van 40 het goed gevorder.
Die plante moet help om die ou grotes se mae vol te hou. Hulle eet onder meer piesangs, pynappels, rys, suikerriet en pampoen. Hulle kry ook aanvullings, veral kalsium.
Die 65-jarige Kammoon eet tot 250 kg kos per dag. Die kos word op die plaas verbou, maar die organisasie het nogtans daagliks tot 5 000 Thaise baht (R1 700) nodig om die 11 olifante te voed.
Hoe bederf jy ’n olifant? Jy gaan swem saam met haar in die rivier en was dan haar rug. Terwyl die mahoets (olifantversorgers) die olifante die rivier in lei, beweeg ons ook stadig in. Dit is beter om langs die olifante te staan, want hul oë is aan die kant van hul kop. Dit kielie as hulle jou met hul slurpe aanraak, maar dis hoe hulle jou beruik en bevoel.
Dit word ’n speletjie toe hulle ons met hul slurpe natspuit en ons hulle met emmers water natgooi.
Van naderby besef ’n mens hul vel is sonsensitief. Daar is sowaar sproetjies op hul gesigte en ore, anders as by ons Afrika-olifante. Juis daarom moet dié olifante hoofsaaklik in die skadu bly.
Op die olifant-weldoeners se wenslysie is vier beskuttings en ’n olifantbestande heining sodat hulle vry kan rondloop sonder om die naburige boere te ontstel.
Ons dag word afgesluit met ’n laaste takie: om vir die olifante kos uit te deel. Hulle kry ryskoekies so groot soos ’n hokkiebal wat hulle met een hap opeet.
Die personeel bestaan hoofsaaklik uit vrywilligers en hulle het duidelik ’n sagte plekkie vir die reuse - en die olifante weet dit. Hulle is rustig en ontspanne.
. ’n Dagbesoeker betaal 2 000 baht (sowat R690), wat middagete insluit. Kry meer inligting by elephantsworld.org.

http://www.netwerk24.com/ontspan/2014-10-11-n-ander-blik-op-thailand