Wednesday 19 November 2014

War Horse




Charlea Sieberhagen
@Charlea_S

Met versigtige bewegings, goeie samewerking en vreemde geluide help Richard Vorster om lewe te gee aan die perdepoppe van die verhoogstuk War Horse.
Vorster, oorspronklik van Graaff Reinet in die Oos-Kaap, is ál Suid-Afrikaner in die produksie. 
Hy woon deesdae in Londen en is een van die poppemeesters wat die koppe van die twee perde, Joey en Topthorn, hanteer. 
Vorster het spesiaal in Suid-Afrika ’n kursus by die Handspring Puppet Company gevolg wat dié perdepoppe ontwerp en gemaak het nadat hy War Horse in Engeland gesien het. 
“Ek het huis toe gekom en aan ’n weeklange werksessie in Kaapstad deelgeneem, want as jy nie ondervinding in poppespel het nie, oorweeg hulle jou nie eens nie.” 
Hy het aanvanklik aansoek gedoen om deel te wees van die West End-produksie in Londen, maar hy het nie die rol gekry nie. Vorster het egter nie moed opgegee nie en ’n oudisie gedoen vir die Brittanje-toer. Dit is saam met dié geselskap dat Vorster ook op die verhoog by Montecasino beland het. 
Hy meen dit is harde werk om die rol van ’n perd se kop te vertolk. “Drie poppemeesters maak elke perd lewend. Die drie van ons moet ons as ’n span saamwerk. Ons moes leer hoe om ’n eenheid te vorm, saam asem te haal en perde-geluide te maak.”
Vorster moet seker maak die perd kyk waar hy moet kyk en beheer die ore, wat een van die emosionele aanwysers is. 
Volgens Vorster het hulle baie tyd bestee om perde en hul gewoontes te bestudeer. 
Die fisieke uitdaging is ook groot. “Joey weeg byna 70 kg. Dus toer daar ’n fisioterapeut saam met ons en ons warm voor die tyd goed op. Ons bring ook tyd in die gimnasium deur en doen joga.”
  •  War Horse is tot 30 November by Montecasino te sien waarna dit Kaap toe verskuif. 




Feite oor ‘War Horse’ 
  •  Die perdepoppe in War Horse is deur Adrian Kohler en Basil Jones van die Handspring Puppet  Company in Kaapstad geskep.
  •  Dit neem agt maande om ’n volledige stel poppe vir die produksie te maak. 14 mans en vroue maak die poppe met die hand. 
  • Die poppe word gemaak van rottang, leer en poliëtileen, ’n sterk soort plastiek. Die perd se bolyf is met aluminium versterk sodat ’n mens op die perd kan sit. 
  •  Die poppemeesters oefen vir agt weke voordat hulle met optredes kan begin.
  • Daar is 23 verskillende poppe in War Horse. Dit sluit die hoofkarakters Joey en Topthorn in, asook nog perde, ’n gans, twee swaeltjies en twee kraaie. 
  • War Horse is al in Brittanje, Amerika, Duitsland, Nederland, en Australië opgevoer.
  • Koningin Elizabeth II en verskeie lede van die Britse koninklike gesin het die produksie gesien.



Thursday 13 November 2014

CrossFit Kids








Terésa Coetzee
@teresacoetzee 


CrossFit is letterlik vir oud én jonk – en CrossFit Kids is die nuutste neiging. 
“CrossFit Kids is nog redelik nuut in ons land, maar ons bied dit by CrossFit PBM Squared in Centurion aan,” sê Wilna Appel, ’n CrossFit-deelnemer aan die internasionale spele, asook ’n afrigter.
“Dis wêreldwyd net so gewild soos CrossFit, en dit maak ’n massiewe verskil in baie kinders se lewe.
“Die kinderklasse is gemik op jong kinders tussen 4 en 12. In baie van die oefeninge speel kinders eintlik net lekker.
“Tog het elke speletjie ’n baie spesifieke doel en is gerig om kinders van kleins af te leer hoe om reg te beweeg en die regte liggaamshouding aan te neem in sekere oefeninge soos optrekke en spronge,” sê Wilna. 
Kinders se spiertjies word geaktiveer en sterk gemaak – en boonop kry hulle ’n baie positiewe verbinding met oefening. 
“Baie van die oefeninge wat ons doen, leer kinders hoe om korrek te gaan sit, goed op te tel, te klim en te beweeg sodat hulle in ’n goeie posisie bly terwyl hulle sterker word. Sterker spiere en sterker bene beteken dat kinders minder beserings opdoen terwyl hulle hul fiksheid verbeter. 
“Let wel, CrossFit Kids het absoluut niks met liggaamsbou te doen nie – al verbeter ons krag en fiksheid,” sê Wilna.


CrossFit Kids kos R500 per maand vir drie oefensessies per week saam met ’n gekwalifiseerde afrigter. Besoek www.crossfitpbmsquared.com of skakel 079 511 4370